Elke nou en dan as ek met iemand gesels en hulle hoor ek is ‘n Barnard kom die vraag op – “Is jy familie van Dr Chris Barnard wat die eerste hartoorplanting gedoen het?”. My antwoord is dan: “Ja, ek is (baie verlangs, maar steeds), en ek kan jou selfs vertel hoe ons familie is (ek het self die moeite gedoen om my stamboom aan syne te koppel)”.
Daar is nou nie soveel Barnards soos wat daar Van der Merwes is nie, maar daar is nietemin ‘n paar van ons verre familielede wat beroemdheid verwerf het. Hierdie blog-artikel lig ‘n paar bekende Barnards uit – sommige is selfs in ons stamboom!
Prof. Chris Barnard
Hartchirurg
Christiaan Neethling Barnard was ‘n Suid-Afrikaanse hartchirurg wat roem verwerf nadat hy die wêreld se eerste suksesvolle mens-tot-mens-hartoorplanting in 1967 gedoen het.
Prof Chris is op 8 November 1922 op Beaufort-Wes gebore as kind van sendelingouers, Adam en Maria Barnard. Hy is op 2 September 2001 tydens ‘n besoek aan Siprus oorlede weens ‘n asma-aanval.
Vind sy rekord in ons stamboom en sien of jy jouself kan koppel aan hom! Lees meer op Wikipedia.
Dr Marius Barnard
Hartchirurg
Marius Barnard was die jonger broer van Prof Chris Barnard, die bekende hartchirurg. Hy was ‘n kardioloog in eie reg en was deel van sy broer se span tydens die eerste menslike hartoorplantings. Hy was ook die skepper van kritieke siekteversekering in 1983 nadat hy gesien het dat pasiënte nie hul lewenstyl as gevolg van die hoë koste van mediese sorg kon volhou nie.
Dr Marius is op 3 November 1927 op Beaufort-Wes gebore. Hy is op 14 November 2014 na ‘n 17 jaar lange stryd met prostaatkanker in Hermanus oorlede. Hy was 87 jaar oud.
Vind sy rekord in ons stamboom en sien of jy jouself kan koppel aan hom! Lees meer op Wikipedia.
Chris Barnard
Skrywer
Christian Johan Barnard was ‘n Suid-Afrikaanse skrywer wat groot beroemdheid verwerf het met sy talle Afrikaanse romans, kortverhale, toneelspele, draaiboeke en televisie- en radiodramas.
Chris is op 15 Julie 1939 op ’n lemoenplaas, Mataffin, in die ou Transvaalse Laeveld gebore – die oudste van twee seuns van Flip Barnard, ’n sitrusboer, en Hanna Blundell. Op 28 Desember 2015 is hy in Pretoria in die Wilgershospitaal aan ’n hartaanval oorlede. Hy was met die aktrise en rolprentregisseur Katinka Heyns getroud.
Lees meer op Wikipedia. Lees ook ‘n baie gedetailleerde vertelling van sy lewensverhaal op LitNet.
Adam Barnard
Sanger
Adam Barnard is ‘n bekende Suid-Afrikaanse sanger wat ‘n lid van die sanggroep Romansz was tot laasgenoemde se ontbinding in 2014. Later in 2014 het hy sy debuutalbum, “Ruk My Tot Stilstand”, bekendgestel.
In 2016 is Adam met nierversaking gediagnoseer. Hy kry moontlik binnekort ‘n nieroorplanting van ‘n skenker af. Nadat hy vir lank in die hospitaal was, het hy onlangs weer so herstel dat hy kan loop.
Vernon Barnard
Sanger
Vernon Barnard, gebore 8 September 1993, is ‘n blinde sanger wat bekendheid verwerf het toe hy die top 8 gehaal het op seisoen twee van The Voice: South Africa as lid van Bobby van Jaarsveld se span.
Vernon is gebore met gloukoom wat hom op die ouderdom van 6 blind gelaat het, selfs al het hy 16 operasies ondergaan om sy sig te probeer red. Ondanks sy gestremdheid, lei hy ‘n vol lewe en het al selfs internasionaal in blinde krieketwedstryde meegeding.
Na The Voice is Vernon ‘n platekontrak deur Universal Music aangebied. Kort na dit is sy debuutliedjie “I Like It That Way” bekendgestel.
Lady Anne Barnard
Skryfster
Lady Anne Barnard was ‘n Skotse digteres en brieweskryfster. Sy was een van die ou Kaap se mees omstrede vroue en het baie gedoen om die verskillende bevolkingsgroepe, ná die Britse besetting van die Kaap in 1795, nader aan mekaar te bring.
Lady Anne is gebore op 12 Desember 1750 as die oudste dogter van die Graaf van Balcarres in Skotland. Sy trou in 1793 met Andrew Barnard. In 1797 arriveer sy saam met haar man – hy was 12 jaar jonger as sy – uit Engeland aan die Kaap. Sy is oorlede op 6 Mei 1825 in Londen.
Lees meer op Wikipedia. Ek gaan binnekort haar rekord en familie by ons stamboom voeg, al is sy nie ‘n afstammeling van ons Afrikaanse stamouer, Johannes Barnard, nie.
En dis ons beroemde familielede opgesom! Maak van tyd tot tyd ‘n draai by hierdie artikel, want daar mag dalk net ‘n nuwe bekende Barnard op hierdie artikel verskyn.
Hou ook van ons Facebook-blad om op hoogte te bly! Sodra ‘n nuwe artikel of opdatering aan ‘n bestaande artikel op ons blog verskyn, sal ek dit ook op ons Facebook-blad laai.