In hierdie artikel gaan ek jou wys hoe om deur ons aanlyn stamboom na jou familie te soek. En as jy nie daar regkom nie is daar tientalle ander bronne waar jy jou familie sal vind.
NB. Let asseblief daarop dat die stamboom webwerf se uitleg onlangs verander het met ‘n opdatering. Meeste items sal min of meer op dieselfde plek wees, so hierdie gids behoort 90% korrek te wees. Hierdie artikel sal binnekort opdateer word met die veranderinge.
Stap 1: Soek deur ons stamboom
Jy hoef nie te registreer om die stamboom te bekyk nie. Registrasie is slegs ‘n vereiste om veranderinge aan die stamboom aan te bring. Indien jy wel registreer, kan jy ook jou taal, tydsone en tema kies en dit sal behoue bly as jy weer aanmeld.
Waar begin ek?
Die eerste stap is om na ons stamboom by barnardstamboom.org.za te gaan. Op die webblad kan jy dan na die “soek”-boksie regs bo gaan.
Hoe soek ek na ‘n individu?
Tik die persoon se naam en van in die soekblokkie en druk Enter. As voorbeeld het ek ‘n soektog vir Johannes Barnard, ons stamvader, begin. Teen die tyd van hierdie artikel het ek 25 resultate gekry.
Om die soekresultate te verminder kan jy filters gebruik. Regs bo kan jy teks insleutel (name, datums, plekke ensovoorts). Onder dit is daar ‘n ry filters wat jy ook kan gebruik.
- Die eerste drie items filter deur geslag.
- Die volgende 4 filtreer deur datum van sterfte – lewend, oorlede, gesterf meer en minder as 100 jaar gelede.
- Twee soortgelyke opsies is beskikbaar vir datum van geboorte – gebore meer en minder as 100 jaar gelede.
- Die laaste twee opsies is vir die ligging van persoon in die hiërargie. Indien die persoon geen ouers in die stamboom aangeteken het nie sal “wortels” die persoon wys. Net so ook as die persoon nie kinders het nie is hy of sy ‘n blaar in die boom en sal die “blare”-opsie die werk doen.
Om vir Johannes Barnard, wat ons stamvader is, op te spoor is op die oomblik nog maklik, want sy ouers is nie aangeteken op ons stamboom nie. ‘n Soektog vir “Johannes Barnard” met die “wortels”-filter het maklik gewerk.
Soekresultate kan georden word met die pyltjies langs die opskrifte (Voorname, Van, Geboorte ensovoorts).
Persone in die lys van soekresultate se ouers kan ook vertoon word deur die “Vertoon ouers” knoppie onderaan te klik. Om statistiek aangaande die resultate te beskou, kan jy op “Vertoon statistiekdiagramme” klik.
Hoe soek ek na ‘n gesin?
Net soos jy ‘n individu sal soek kan jy begin deur ‘n persoon se naam in die soek-blokkie te tik en soek. As die resultate verskyn het, kan jy op die “Gesin”-knoppie klik.
Jy kan ook filters gebruik om die resultate van die soektog te verfyn.
- Die eerste filter het te make met of die persone in die gesin nog lewe of nie.
- Die tweede filter is weer ‘n blaar/wortel filter soos met die soektog na ‘n individu.
- Laastens kan huwelikstatus of -datum gebruik word om die gesin op te spoor.
Meer soek-opsies
Meer opsies vir ‘n algemene soektog is beskikbaar deur die “Algemene soektog”-knoppie te klik.
Meer gevorderde soek-opsies is ook beskikbaar onder “Soek” op die hoofkieslys.
Met ‘n fonetiese soektog kan jy volgens die Russell (Amerikaanse) of Daitch–Mokotoff fonetiese algoritme soek. ‘n Uitgebreide soektog laat jou toe om selfs meer presies of vaag te wees met jou soektog afhangende van of jy presiese of benaderde feite het.
Het jy jou familie gekry?
As jy steeds nie jou familie kon opspoor via ons stamboom nie het ons vir jou nog ‘n paar plekke om te gaan soek in die volgende afdeling hieronder. Maak wel seker jy hou van ons Facebook-blad om op hoogte te bly van nuwe verwikkelinge aangesien ons stamboom voortdurend groei met nuwe rekords wat maandeliks bygevoeg word.
Stap 2: Soek op ander plekke
So jy het nie jou familie op ons stamboom opgespoor nie? Dis jammer, maar met ‘n paar voorouers se name en feite soos geboorte en huweliksdatums is kanse goed dat jy iewers op die web jou mense gaan kry.
Facebook-groepe
Daar is twee groot Barnard-familie groepe op Facebook: Barnard Genealogy – South Africa en Barnard Genealogy. Sluit aan by hierdie groepe, veral eersgenoemde, en stel jou vraag aan die lede van die groep. Net dalk het iemand ‘n antwoord vir jou.
Genealogie-webwerwe
Daar is ‘n hele paar genealogie-webwerwe waar die publiek stambome kan skep, deur ander se stambome kan kyk en bydraes daartoe maak. Al hierdie webwerwe bied egter beperkte funksionaliteit sonder ‘n jaarlikse of maandelikse intekening.
- RootsWeb – Redelik beperkte funksionaliteit teenoor van die ander webwerwe wat hier gelys word.
- Ancestry – Baie beperk met gratis intekening. Jaarlikse intekeninge is duur. Lees meer oor wat jy kan doen met ‘n gratis rekening by Ancestry.
- FamilySearch – ‘n Gratis diens wat jou help om jou familie na te vors. Baie nuttig aangesien dit die ou registers van die NG Kerk in Suid-Afrika digitaal beskikbaar stel tesame met grafrekords en meer. Sien alle Suid-Afrikaanse rekords op FamilySearch.
- Geni – Ietwat beperk sonder ‘n betaalde intekening, maar darem heel bruikbaar. Jaarlikse intekeninge is duur. Lees oor wat jy kan doen met ‘n gratis rekening by Geni.
- MyHeritage – Baie bekende genealogie-webwerf. Gratis rekening Jaarlikse intekeninge is duur.
Ander bronne
Die Genealogiese Instituut van Suid-Afrika (GISA) het stamboomnavorsing gedoen tot hul ontbinding in 2018. Al hulle navorsing is aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT/CPUT) se Wellington-kampusbiblioteek geskenk. Lees meer oor die skenking en ‘n opvolg-artikel deur KSUT daaroor.
Jy kan ‘n lid word van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika (GGSA) of deur hul soekbare rekords kyk.
Die NG-Kerk Argief is een van die beste bronne. Soos hierbo genoem het die NG-Kerk ‘n ooreenkoms met die Genealogiese Genootskap van Utah in die VSA bereik en is meer as ‘n miljoen foto’s van kerkrekords nou beskikbaar op FamilySearch.
Die Regering van Suid-Afrika het ook ‘n webblad met skakels na genealogie-webwerwe.
En seker die beste bron van name, foto’s, datums en verhoudings van nabye familie – Facebook. Ek het Facebook gebruik om inligting rakende my redelike nabye familie aan te vul en dit het nogal goed gewerk.